Huldeblyk
HULDEBLYK
Bonnie Du Plooy
6/8/1948 – 8/5/2016
Bonnie se ouers het in 1961 na Walvisbaai getrek. Walvis was 'n klein, afgesonderde en eiesoortige gemeenskap langs die Namibiese kus. As kind het ons die vryheid van die dorp, die see, die lagoon en woestyn gehad. Ons was vry om kind te wees.
Inleiding
Ek plaas hier paar van my skrifstukke. Julle wat my ken sal weet dat ek maar altyd geskryf het - nie vir geld of roem nie, maar vir die genot wat dit my gegee het.
Julle sal ook weet dat ek ons Afrikaanse onderwyser, Mnr. Venter, se witbroodjie was. Ou Droogte, soos ons hom goediglik genoem het, sal altyd by my bly vir die wonderlike aanmoediging en leiding. Ek dra hierdie bladsye aan hom op.
Hemelse Vader
U het die voëltjies reeds lank hoor fluit toe ek wakker word.
Uitbundig.
Hulle het geweet ek sou lag en vir hulle broodjies breek en dit gaan uitstrooi oor die gras. Sodat hulle kan eet. Hulle instrument.
Eerste die klein mossietjies en die vinke en die spreeus.
Dan die groot mossies. Bangerig. Die tortelduifies wat skugter en vol vrees eenkant sit en wag dat die ander klaarmaak.